Het julle ook ‘n suster Kat by die huis? Nou ek kan julle baie vertel wat julle beslis nog nie weet nie. Die goed is mal. Hulle koppies raas. Jy weet, hulle sit so stil voor hulle uit en kyk en dan hoor jy net hull koppe raas. Soos “rrrrr, prrrrrrr, rrrrrrr, prrrrr” Dit klink of hulle besig is om te saag. Twee kante toe. Maar hulle vertrek geen spier as hulle so maak nie. Maar die suster Kat hier by ons is heeltemal glad nie lekker nie. As sy buite speel, dan bring sy haar speelgoed hier in die huis in. Nou die oggend het sy ‘n egte muis hier ingedra. Die arme ding was nog baie klein. Nou die kombuisvloer hier is glad. As ek nie mooi oppas nie, dan ploeg ek met my rewolwer op die grond as my pote onder my uitgly. Maar die suster Kat het sulke retractable spikes onder haar voete. Sy gly nooit nie, behalwe as Toffie en ek aan haar stert trek. Jy sal dit nie glo nie, daar speel sy sokker met die arme muissie hier al oor die gladde vloer. Die dingetjie kry geen vatkans op die lewe nie en word van die een kant van die kombuis na die anderkant geboender. Uiteindelik staan die miesies se skoene in die pad. Die miesies het hulle uitgetrek en net daar gelos. Daar het suster Kat haar misgis met spoed, en afstand en hoogte en die muis begin te vlieg na die laaste klap wat Kat vir hom gegee het. Toe land hy net langs die skoen en kruip daar weg. Maar die Kat grou hom daar uit en wip die muis binne in die skoen. Dit was baie gaaf. Suster Kat het die skoen so bekyk en bevoel, maar die muis bly net daar binne. Dan gaan loop suster Kat so’n draai en kom weer terug om te sien of die muis nog nie daar uit is nie. Maar seker het die muis aan die slaap geraak van al die ruike daarbinnekant. Dis nadat die Kat seker 10 maal probeer het om vir muis daar uit te kry, dat miesies daar in kom. Die kat se gedagtes was meteen weg van die skoen en kyk of die miesies nie vir haar wil kos gee nie. Maar so vroeg in die more dink die miesies net aan perde. Geen hond of kat of die baas kry enigiets voordat die perde nie gevoer is nie. Blêrrie goed het die hele wêreld om kos te soek en dag en nag tyd daarvir, maar nee, die miesies moet nog kos agter hulle aandra. “OOOO gaaaaats, iiiiiiieeeee” Vet, my ore! Die miesies trek al die sirenes oop toe sy haar voet in die skoen steek en muis daarvoor begin te vroetel. “OOOOOEEEEE AAAAAA wat de swerneut is die!” Skrou sy daar. Ek dog die muis het sy pa en ma gaan haal soos wat die miesies te kere gaan. Sy probeer om die skoen uit te skop maar met haar voet en die muis daar voor in sit die spul goed vas. Sy dans daar op een poot rond en swaai met haar arms wild in die lug terwyl sy haar ander voet driftig heen en weer skommel. Uiteindelik vlieg die skoen hier my kant toe en die muis anderkant. Ek moes net koes anders was ek dood. Toe ek weer opkyk was die muis lankal weg. Die miesies blaas soos wat Tannie Tombi altyd maak as sy warm kry. Sy gaan sit op die stoel en gryp nou eers die skoene en bekyk hulle ernstig of daar nog nie iets binnekant is nie. Suster Kat sit anderkant op die tafel en maak net “prrrrr.prrrrr.prrrrr” Glad nie gaaf nie, ek kon dood gewees het.
Ek sê vir jou, die kat se koppie raas.
Ek moet allenig die huis oppas. Ek het julle gesê ek is die sekuriteitswaghond. Dis ‘n baie groot verantwoordelikheid. Veral met so’n groot huis wat op enige oomblik kan skuif na daar waar jy dit nie meer kan sien of ruik nie. Nou sit ek dan hier op die voorstoep se trappies. Ek kyk vir alles wat verby kom. Dis nogal woes hierso. Gelukkig skyn die geel bal daar bo wat ‘n hond kan lekker warm maak. Hoekom die ding so baiekeer wegkruip weet ek nie. Daar is tog niks wat hom kan bang maak nie. In die oggend vroeg skyn hy in my bed. Dis nogals lekker. Dan kan ek nog bietjie langer lê en slaap. Dit meen as die baas nie ons uit die bed uit skop nie. Dis elke oggend dieselfde ding. As hy wil nou uitgaan, dan moet ons ook hier uit. Of ons nou reg is daarvoor of nie. Jy dink nog om jouself om te draai, dan gryp hy jou met sy groot voorpote agter jou nekvelle en dra jou sommer daar uit. Soms is hy nou baie versigtig. Dan lê hy jou so onderstebo op sy arms en grom en brabbel iets soos “Soet honne, oulike brak” Watever dat ook al kan beteken. Dan sukkel ek om asem te kry so op my rug. Ek kry asem as ek op my voete staan met my pens onder, maar so op my rug gaan dit maar moeilik.
Maar dit was toe baie nice van hom. Hy het vir ons lekker warm vuur gemaak daar in die kaggel. Hy kan self nie eers so naby lê as ek en Toffie nie. En kan jy dink van suster Kat? Sy het wragtig haarself hier tussen onstwee in geplak.
MAPSTIEKS! maar die lewe is tog lekker.